Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 8 AUGUSTUS 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat Chris Burger, ZS2CCB van Jeffreysbaai, voorheen ZS6ACG, op Woensdagaand 5 Augustus weens ’n hartaanval stil sleutel geraak het.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

NASIONALE RADIOFREKWENSIEPLAN GEPUBLISEER

LIDMAATSKAPHERNUWINGS

NUWE AFSTANDREKORD VIR 10 GHz

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

NASIONALE RADIOFREKWENSIEPLAN GEPUBLISEER

OKOSA het die Nasionale Frekwensieplan vir Suid-Afrika in Staatskoerant No 727 van 30 Julie 2010 gepubliseer. Die dokument beslaan 344 bladsye en daarin is ’n lys van al die frekwensies tussen 9 kHz en 3 000 MHz wat beskikbaar is in Suid-Afrika, tesame met al die verwysings en beperkings. Die dokument is groter as 9 MG.

Die SARL bestudeer die dokument en het versoek dat Hans, ZS6AKV, teenwoordig mag wees by die OKOSA/SARL se gemeenskaplike vergadering wat later hierdie week sal plaasvind. Daar is ten minste een nuwe toekenning vir amateurradio en dit is van 135,7 tot 137,8 kHz. Die gebruik van hierdie frekwensieband moet egter wag tot na publikasie van nuwe regulasies. Dit sal ook gedurende die week se gemeenskaplike vergadering bespreek word.

Dit word beplan om die dokument in die ledegedeelte van die SARL se webblad beskikbaar te stel. Dit sal in drie dele van ongeveer 3 MG per deel teen Woensdag hierdie week gedoen word.

1 006 LEDE HET REEDS DIE REGTE DING GEDOEN – HULLE LIDMAATSKAP HERNU

Hierdie is ’n herinnering aan lede wat nie in die 1 006 ingesluit is nie wat reeds hulle lidmaatskap vir 2010/2011 hernu het. Indien u nognie hernu het nie, hernu nog hierdie week. U is dit aan u stokperdjie verskuldig. Herinneringskennisgewings is verlede week uitgestuur. Indien u egter reeds u betaling gemaak het, mag u die herinnering ignoreer, andersins gee asb. aandag daaraan. Indien u onseker is aangaande die bedrag om te betaal, bel vir Mariska gedurende kantoorure by 011 675 2393.

NUWE AFSTANDREKORD VIR 10 GHz

Die Radiovereniging van Groot-Brittanje rapporteer dat ’n nuwe wêreldafstandrekord op 10 GHz tussen die Kaap Verdiese eilande en die suide van Portugal opgestel is. Om 10:46 UTC op 10 Julie is die bestaande rekord met ’n ESB QSO oor 2 696 km gedurende die Hyperatlantica 2010 DXpedisie verbeter. Die vorige rekord in hierdie band was 2 070 km. Die operateurs van Hyperatlantica het hierdie rekord met 626 addisionele kilometer verbeter.

VIER VROUEDAG MET DIE SARL SE JD-NAELLOOP EN WEN ’n GROOT BOS BLOMME

Die SARL se Jong Dames-naelloop is ’n pretaktiwiteit om Vrouedag tussen radioamateurs in suidelike Afrika te vier. Roep “JD-naelloop” of “YL Sprint!" Die naelloop sal op Maandag 9 Augustus vanaf 09:00 tot 10:00 UTC plaasvind. Dit word met gebruik van spraak alleen gedoen vanaf 7 053 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz.

Ruil ’n RS-verslag en JD of YL of OM uit. Kontakte tussen YL- of JD-stasies is 5 punte werd, kontakte tussen YL- of JD- en OM-stasies 3 punte en kontakte tussen OM-stasies tel net een punt. Stuur logstate binne 15 dae na die kompetisie, dus voor 24 Augustus 2010, per e-pos aan zs4bfn@]netactive.co.za of per pos aan die Bloemfontein RAK, Posbus 12104, Brandhof, 9324.

Alle JD-logstate sal deelneem aan ’n spesiale trekking vir ’n groot bos blomme wat by die wenner se deur afgelewer sal word. Maak dus seker dat u tuisadres ook op die logstate verskyn.

WENNER VAN DIE JEUGDAGNAELLOOP SE FOTOKOMPETISIE

Die wenner van die Antennaboek is die Lichtenburg Amateurradioklub met die inskrywing van hulle jongste deelnemer, Eduan, wat 4 jaar oud is. Hy het met gebruik van die Lichtenburg Amateurradioklub se roepsein, ZS6LRK, sy eerste jeugdagkontak gemaak met ’n jeugdagnaelloopstasie, Rudi, ZS6RDI, wat in Ramsgate in Afd. 5 as mobiele stasie bedrywig was. Die kontak was gemaak onder toesig van Eddie, ZS6BNE. Veels geluk, die Antennaboek sal spoedig op pad wees. Besoek www.sarl.org.za om die foto te sien.

RAE-KLASSE IN PRETORIA

Magalies Radioamateurklub begin op Saterdag 14 Augustus om RAE-klasse vir voornemende radioamateurs aan te bied. Die sillabus vir klas A sal gevolg word.

Dit sal by Die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster in Meyerstraat Rietfontein, Pretoria in die lokaal van ZS6JVTse radio-opleidingsentrum plaasvind.

Ongeveer 10 klasse sal aangebied word waaronder radiospraak be-oefen sal word. HF-toetse sal ook gedurende die tydperk afgeneem word.

Klasse duur van 09:00 tot 13:00. `n Koeldrank en iets te ete word aanbeveel vir die 10 minute breek na elke uur.

Klasse vir die Klas B RAE het alreeds die afgelope Maandag ’n aanvang geneem.

Belangstellendes kan Johann, ZS6PSS, kontak by 082 446 1581.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Gedurende die afgelope week het 'n korona-uitbarsting, wat reguit na die aarde gerig was, van sonvlek 1 092 'n bietjie sensasie in die media veroorsaak. Gelukkig het dit nie die begin van die einde vir die Aarde ingelui soos wat in sekere media berig is nie. Tans is sonvlekke 1 092, 1 093, 1 094 en 1 095 sigbaar. Dit is die eerste keer dat vier sonvlekke gelyktydig gedurende siklus 24 sigbaar is. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Gedurende die middae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Zeeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Swak 15 m-openinge is na Brasilië en Suid-Amerika gedurende die middae moontlik.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

9 Augustus – SARL LV-naelloop op 40 m 09:00 tot 10:00 UTC;
12 - 14 Augustus - Internasionale AMA-konferensie in Dallas, Texas;
14 Augustus – PIC-kursus in Pretoria;
14 Augustus – RAE-klasse begin in die ZS6JVT-lokaal; kontak Johan,ZS6PSS, by 082 446 1581 vir besonderhede;
16 Augustus – Logstate vir SARL HF-foonkompetisie moet in wees;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
24 Augustus – Logstate vir Vrouedag JD-naelloop moet in wees na
zs4bfn@]netactive.co.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003